Sondag 03 April 2016

"School Boarding House"

     Ten spyte van 'n dringende behoefte aan huisvesting vir leerlinge op Humansdorp het dit in die vorige eeu amper veertig jaar geneem om skoolkoshuise op te rig. Leerlingtalle in die skool het vining toegeneem, veral nadat wetgewing in 1913 dit verpligtend gemaak het, dat skoolgegaan moet word tot standard IV of ouderdom 14. In 1917 is dit verhoog na standard VI of sestien jaar oud. Die uitbreek van die eerste wêreldoorlog het ook bygedra om die bou van die koshuise te vertraag.

     Daar was aanvangklik slegs een skool vir al die kinders ongeag standerd maar vanaf 1920 is defnitiewe skeiding gemaak tussen die laer- en hoërafdeling van die skoolloopbaan. In 1923 is Afrikaans in die Humansdorpse skool begin gebruik as amptelike taal i.p.v. Hollands.

      Leerlinge is op reëndae om eenuur huistoe gestuur en ook wanneer die kwik tot 85 grade gestyg het maar wanneer die temperatuur 90 grade bereik het, is kinders dadelik huistoe laat gaan ongeag hoe vroeg dit was.

     Goedgekeurde losieshuise is gebruik om van die kinders te huisves en Mev E J Matthee het vanaf 1906 dogters ingeneem in haar losieshuis in Kempstraat, Humansdorp. Die foto van die losieshuis is in ongeveer 1937 geneem en geskenk deur Me Louisa Matthee. Die telefoonnommer van die losieshuis was Humansdorp 51. Die huis is intussen afgebreek.

Meisies Losieshuis, Kempstraat, Humansdorp. Ongeveer 1937

 

    
'n Gemengde koshuis is Julie 1940 voltooi vir 65 kinders maar in 1948 was daar reeds 78 kosgangers en by drie goedgekeurde losieshuise plek vir nog 37 maar heelwat kinders moes gebruikmaak van duurder privaatplek.

     (Die inligting kom uit "Die Groei en Bloei van Humansdorp 1849-1975" deur E.J.Gerryts.