Sondag 20 Maart 2016

Anita van der Merwe - Uittrede as Voorsitter van Museumvereniging

     Tydens ‘n besondere geleentheid, in die vorm van ‘n oggendtee, is ‘n Sertifikaat van Verdienste oorhandig deur Mnr Theo Vosloo, nuwe voorsitter, aan Mev Anita van der Merwe, die uittredende voorsitter van die Humansdorpe Museumvereniging. Die tee is gehou by Grill & Co, 95 on Main en die tafels pragtig versier met o.a. pienk kolwyntjies.

        Theo het Anita bedank vir haar onbaatsugtige diens en toewyding aan die museum wat oor 'n periode van amper dertig jaar strek. Mev Anita van den Merwe is reeds vanaf 1988 betrokke by die Humansdorp Museum nadat sy as Raadslid van die Munisipaliteit aangestel is en die museum deel van haar portefeulje gevorm het. Sy was dan ook die afgelope nege jaar voorsitter van die Humansdorpse Museumvereniging.
      Op ouderdom 85 jaar het sy egter besluit dit is tyd om bestuur te oorhandig aan ‘n jonger persoon want hedendaase uitdagings om ‘n museum te laat oorleef, in ‘n veranderende omgewing, behels onder andere die gebruik van moderne tegnologie. Verder onderskryf sy ook die waarde van vernuwing by verenigings en organisasies maar sal steeds betrokke bly by die museum.
     Hierdie formidabele vrou leef aktief die leuse van haar 75ste verjaarsdag uit : “Sonder entoesiasme is jy dood” en is dan ook aktief betrokke by die bewaring van erfenis en kindersorg. Sy bestuur haar eie boetiek in Humansdorp en die reël die verhuring en onderhoud van ‘n hele aantal eiendomme.
Theo Vosloo - nuwe Voorsitter
Anita van der Merwe
     Bietjie meer agtergrond oor Anita: Haar ouers was albei van Duitse afkoms en haar moeder se voorouers het in 1856, na die Krim oorlog, naby King Williams Town grond gekry om op te boer. Haar oupa het uit Duitland saam met 'n vriend vertrek oppad na Australië maar in Suid-Afrika beland en gebly... Die oupa het vinning vooruitgegaan - 'n mooi huis gebou en een van die eerste motorkarre besit terwyl mede Duitsers nog met kar en perde gery het.
     Haar ouers het vroeg, na standard 6, die skool verlaat en haar pa het in sy neef se handelspos ("trading store") begin as klerk, op 17 jarige ouderdom het hy en die ouma 'n handelspos in die Willowvale distrik gekoop +/- 1918. Tien jaar later is hulle getroud en daar is 7 kinders uit die huwelik gebore - 6 dogters en een seun.
     Die gesin was meertalig, by hulle aan huis is Duits gepraat, Xhosa met die werkers, Engels op skool en algemene voertaal met ander mense en soms ook bietjie Afrikaans. Na matriek is sy Tukkies toe met redelike powere Afrikaans maar op 21 behaal sy 'n BSc huishoudkunde graad. Die volgende jaar kry sy 'n junior pos in die Huishoudkunde afdeling terwyl haar kêrel, en toekomstige man, sy finale jaar tandheelkunde gedoen het.
      In 1953 begin haar man ‘n tandheeldundige praktyk in Humansdorp en hulle 5 kinders word hier gebore, hulle het nou al 14 kleinkinders. Haar man is ‘n klompie jare gelede oorlede. Anita se ander passie is ‘n gesonde leefstyl. Haar ma se familie was diabetelyers, die ouma oorlede op 63, ma oorlede op 73 terwyl haar pa eers op 85 oorlede is en sy wil d.m.v. 'n gesonde leefstyl met min verfynde suiker en koolhidrate haar vrouliker stamboom se geskiedenis verbeter. Sy het onlangs 'n nuwe horlosie gekoop, met 'n vyf jaar waarborg, en spot graag en sê:” ek wil waarde vir my geld kry en nog vyf jaar leef”. Daar is volgens haar vir ouer mense ook ‘n elfde gebod : Jy mag nie val nie!       Tydens die geleentheid het sy ‘n humoristiese toespraak gelewer (uit die vuis en sonder enige notas) en ook haar lewensfilosofie gedeel dat om gemoedsrus en stabilitiet in die lewe te handhaaf moet jy die Here erken want sonder Sy wysheid, genade en seeninge sal jy nie die rus en vrede ontvang wat ons almal na smag in hierdie aardse bestaan nie - al volg jy ook 'n wonderlike leefwyse. Inderdaad ‘n werrkwaardige dame….