Die dag van 9 Februarie 1869 staan letterlik gebrandmerk as die swart dag in die geskiedenis van Humansdorp. Dit was of die hele wêreld wou verbrand.
Die streek vanaf die Tsitsikammabosse tot oorkant Van Stadens-rivier en van die see tot aan die Kougaberge het in ligte laaie gestaan. Die eienaardige van die ramp is dat dit nie 'n vuur was wat op 'n sekere plek ontstaan en deur 'n geweldige wind aangedryf is nie; selfs dan skyn dit onmoontlik dat die vlamme op een dag 'n gebied van oor die honderd myl tot as sou kon verbrand. Volgens mededelings het 'n warm noorde-wind gewaai sodat dit nie die wind was wat die vuur van wes na oos (of andersom) kon dryf nie. Buitendien het daar op dieselfde dag groot verwoestende brande gewoed in die distrikte van George, Knysna, Oudtshoorn en Prins Albert.
Verskeie teorieë van hoe die brand ontstaan het, is ontwerp; en almal stem hierin ooreen dat die brand oor 'n uitgestrekte gebied op 'n groot aantal plekke byna gelyktydig uitgebreek het, sodat die groot streek in een dag sc tyd uitgebrand het. Die goeie reënval van die vorige jaar het die veld oortrek met welige gras en ander plantegroei. Toe volg die warm droë somer met Februarie, soos gewoonlik, as die warmste en droogste maand van die jaar. 0p die agste Februarie het 'n ongekende warm noordewind begin waai wat alles verder uitgedor het, en die volgende dag was die son onuithoudelik warm. Die veld was besonder ontvlambaar en dit skyn asof die skroeiende strale van die son op 'n onverklaarbare wyse die veld orals aan die brand gesteek het. Een skrywer wyt dit aan stukkies glas orals in die veld wat as soveel brandglase die vuur in die gras laat slaan het.
Wat ook al die oorsaak mag wees, die feit bly dat byna die hele Humansdorpse distrik (behalwe die kroonbosse) en sommige aangrensende gebiede in die voormiddag van 9 Februarie 1869 vlam gevat het wat nagenoeg alles verteer het, insluitende woonhuise, buitegeboue, rytuie, diere, oeste en selfs mense.
Hartroerende tonele is op sommige plekke afgespeel, en treffende verhale van ouers wat met hul kinders in die water moes gaan skuil om aan die verterende vlamme te ontkom, leef nou nog voort in die volksmond. Die hele distrik was so te sê kaalgestroop sodat die regering onderstand moes verleen aan die geteisterdes waarvan sommige alles verloor en slegs met hul lewe vrygekom het. Net soos die geva1 was met die noodlydendes as gevolg van oorstromings van die Gamtoosrivier, is hulpskemas op verskeie plekke op tou gesit om die ongelukkiges na die brand van 1869 te help.
Toe die heer Andries Meyer van Brandplaas na tagtig jaar onlangs die fondament van sy nuwe woning laat uitgrawe het op die plek waar die oorspronklike plaaswoning met sy solder vol koring in 1869 die prooi van die vlamme geword het, is daar o.a. nog verbrande koringkorrels in volmaakte toestand naas ander verbrande voorwerpe aangetref.
Die duidelikste beeld van die omvang van die brand en die verwoesting wat dit aangerig het, word weerspieël in amptelike rapporte en koerantverslae van daardie dae.
Op 10 Februarie 1869 het magistraat J J le Sueur van Humansdorp die volgende rapport aan die regering gestuur:
,,With much regret I have to report that yesterday the 9th instant some loss of life and immense damage to property was occasioned in this district through the raging of a widespread and destructive fire which originated in the veld.
Reports have reached me that more than 20 farmers' homesteads, with all belonging to them, crops, farm implements have been burned down, and I am informed that 25 persons-all except two of the coloured classes-unable to escape from the fire, perished in the burning fields, and that several others are reported missing.
From the proximity of the fire at one time it was feared that this village also might be consumed, and that would most likely have been the case but for the very opportune fall of rain, which, together with the exertions of some of the inhabitants extinguished the fire.
The origin of the fire has not been ascertained as yet, the fields appearing to burst out into flames in several sots at the same time and in different directions.
The loss of properly and livestock must be great and can scarcely be estimated at present.
I have supplied food and clothing for the immediate and temporary relief of some whom this calamity has left entirely destitute and have to request your sanction of this course, adopted at an emergency.
By next post I expect to be in a position to furnish further particulars. All danger of further mischief appears over now and I have reason to believe that the Crown forests have escaped."
Op die 19de Februarie volg 'n verdere rapport waarin 'n lys aangegee word van die verliese deur inwoners van die distrik gely, en in hierdie brief beweer die magistraat dat die brand in die bos begin het, en dat 'n komitee aangestel is om die noodlydendes te hulp te kom. Verder is daar kollektelyste geopen beide in Port Elizabeth en Uitenhage. En dan vervolg hy:
,,I am of opinion that the immensity of the extent on which the fire spread and the terrible rapidity of its course were due to the fact, that the extreme heat of the sun had prepared for instant ignition the grass, shrubs and brushwood, then unusually plentiful so that wherever the cinders or sparks, which a furious gale of wind carried to an almost inconceivable distance, fell, a new centre of flame at once burst out which in its turn gave rise to many others."
Die lys wat hy ingesluit het, bevat die volgende:
Snyklip: Fingokerk, oeste en deel van die lokasie.
Driefontein: M. van Niekerk en F. Rademeyer - buitegcboue en meul.
Langfontein: J. du Plessis - huise, oes, twee perde, twee karre en 'n wa.
Dieprivier: J. Moolman - huis, oes, twee perde, twee karre en 'n wa.
Lucas Meyer - huis, meubels, oes, 400 skape.
Barend Marais - huis, oes, meubels, en twee osse.
P.Moolman - oes.
Regeringsgrond: 27 Fingo- en huttc, oes en 14 menselewens verlore.
Klipdrif: 'n Man, 'n wa en 'n vrag goed.
Seekoeirivier: H. Meyer - huis, oes en meubels.
Brakrivier: T. Tolway - 'n wa en vee.
Seekoeirivier: P. Swart - huis, meubels, oes, 500 skape, waens, karre, geld, ens.
Jeffreysbaai: J. Kemp - huis, en wa met vrag.
A.Bartholomew - alles.
P.Human - 75 skape.
Suurbron: J. Ferreira - meubels en effekte.
N. van Onselen - huis, meubels, oes, wa, kar, en 'n deel van sy vee.
F. Gertenbach - sy huis (mev. Gertenbach en 'n bediende doodgebrand).
G. Kemp-wa en 14 osse, 70 skape.
Pfeiffcr - 120 skape en werkwinkel.
J.Terblanche - huis, ens., oes, twee kinders cn bediende.
M. du Plessis- buitegeboue, oes, wa met vrag.
L. du Plessis - huis, oes, meubels, ens.
Wed. van Niekerk - 336 skape, 3 perde.
W.S.R. Metelerkamp - winkel, woonhuis, effekte, buitegeboue, stalle, werkwinkels, twee waens, ses karre, 20 perde en vee en beeste, 120 mud koring, 30 mud hawer, 40 skape. Elf lewens verloor.
Rondebosch: Die volgende het alles verloor: Wagner, Vosloo, Smith, Tcrblanche, Schreiber, Malagas, Fortuin. (Wagner en Vosloo kon slegs hul wa en osse red).
Hierdie vreeslike brand was baie wyd verspreid.
Uit Uitenhage is o.m. die volgende berig (10 Februarie):
,,Dis een van die vreeslikste rampe wat ons distrik nog ooit getref het. Op Dinsdag 9 Februarie om elfuur in die môre het 'n vuur uitgebreek in die Tzitsikammaberg, en later het vuur op verskeie plekke uitgebreek in die bosse langs die Gamtoos- en Vanstadensrivier. Orals was vuur te sien en die hele gebied was gehul in verstikkcnde rookmassas en vlamme. Dit vereis 'n vaardige pen om die verwoestings wat aangerig is te beskryf.
Die bosse van mnr. Pullen in die Vanstadenswyk is oor 'n gebied van agt myl vernietig. Deurdat hy 25 arbeiders aan die werk gesit het om vore te grawe en voorbrande te maak, was hy gelukkig genoeg om die brand te kecr en sodoende die woonhuis en buite-geboue van 'Augusta Park' te red."
Ook hierdie rapport gee 'n hele lys. van verliese aan, huise, krale, voorrade, honderde skape, miedens, meule, ens., ens.; hy noem ook die woning van W.S.G. Meterlerkamp van Suurbron wat die trots van die distrik was en nou een smeulende puinhoop is. Sy kosbare boeke is gelukkig gered deur die onvermoeide poging van sy seun. Metelerkamp self was tydens die ramp in Port Elizabeth waar hy die treurige nuus moes verneem.
Die heer Kemp van Uitvlugt wat op pad was met sy ossewa is deur die vlamme omring. Hy, sy seun en die touleier is saam met die wa en die trekgoed verbrand.
By Vanstadens is drie wonings van die gebroeders Munnies asook 'n kind, 4 kleurlinge en 6 stuks vee vcrbrand.
Uit George is ook berig dat 'n groot brand naby Meiringspoort begin het, en dit is deur 'n sterk Suid-oostewind weswaarts gcdryf. Geen menselewens het verlore gegaan nie, maar woonhuise en oeste is totaal vernietig. Op een plaas moes 'n man, Gabriël le Roux, haastiglik sy siek vrou en sy kinders op 'n wa laai en jaag om aan die vlamme te ontkom. Orals is berig dat miedens, graanoeste, tabakskure e.d.m. die vlamme ten prooi geval het.
Selfs uit Prins Albert is meegedeel dat groot vure in die nabyheid van die dorp teen die Swartberg gewoed het.
'n Korrespondcnt uit Knysna het o.a. gemeld:
,,Die son het nouliks op 9 Februarie opgegaan, of ons het 'n voorgevoel gehad dat daar iets buitengewoons gaan plaasvind. Tussen 9 en 10 uur het 'n eienaardige wind, onbekend in hierdie streke, begin waai. Dit was so 'n warm wind dat 'n mens jou nouliks na buite kon begeef. 'n Paar uur later het dit geblyk dat ons voorgevoel bewaarheid is, want tussen twaalf- en eenuur was Plettenbergbaai in 'n digte rook gehul; en spoedig kon ons 'n geweldige vuur sien, sodat dit gelyk het of die hele Plettenbergbaai in ligte laaie staan. Van alle kante het die vure gekom sodat Wittedrif, Ramdoringsrivier en die hele omgewing in 'n oomblik se tyd een groot brand was. Op Wittedrif is die huise gelukkig gered maar al die ander goed is verbrand.
Orals was dit dieselfde storie, en mense was maar te bly dat hulle met hulle lewens kon vrykom. Dit was aandoenlik om die gekerm en gehuil van vrouens aan te hoor en die groot verwarring te sien wat daar geheers het. Die valleie, bosse en spelonke was in sulke digte rook gehul dat 'n mens nie geweet het waarheen om te vlug nie. Aangrypend was dit om te sien hoe varke, honde, ganse, hoenders en selfs duiwe en ander voëls in die vlamme omgekom het.
Die warm gloed het voëls uit die lug na benede laat tuimel soos blare van 'n boom. Skape het by honderde doodgebrand en wildebokke het in groot getalle omgekom. Sommige mense wat see se kant toe gevlug het, is gered deurdat die wind later van rigting verander het. Jan Groenewa1d het met sy vrou en kinders na die rivier gevlug waar hulle hul lewens op 'n boot kon red.
Die volgende dag was die hele wêreld een groot swart roukleed en dit was treurig om te sien hoe alle aardse besittings in een dag se tyd totaal tot as verbrand het. Die groot geluk is dat die brand nie in die nag plaasgevind het nie, want dan sou dit sekerlik gepaard gegaan het met die verlies van baie menselewens. Daarom het baie in die geloof saam met Job uitgeroep: Die Here het gegee. die Here het geneem. Laat die naam van die Here geprys word."
Nota:
By die restaurant by die Stormsrivierbrug is 'n deursnit van 640 jaar oue Outiniqua Geelhoutboom (Podocarpus falcatus) wat die groot brand van 1869 oorleef het - South African National Parks.
Uit : Gerryts, EJ; Humansdorp se groei en bloei 1849 - 1949
Bladsye 145-149
Erkenning: Piet du Toit dutoitel@iafrica.com